Item 962 - Openingswoorde deur President Mandela tydens ontmoeting met afrikaner-organisasies, Vrydag 29 Maart 1996

Identity area

Reference code

ZA COM MR-S-962

Title

Openingswoorde deur President Mandela tydens ontmoeting met afrikaner-organisasies, Vrydag 29 Maart 1996

Date(s)

  • 1996-03-29 (Creation)

Level of description

Item

Extent and medium

Transcription of speech made by Mr Mandela

Context area

Name of creator

(18 July 1918-5 December 2013)

Biographical history

Archival history

Migrated from the Nelson Mandela Speeches Database (Sep-2018).

Immediate source of acquisition or transfer

Content and structure area

Scope and content

Appraisal, destruction and scheduling

Accruals

System of arrangement

Conditions of access and use area

Conditions governing access

Conditions governing reproduction

Language of material

  • English

Script of material

Language and script notes

Physical characteristics and technical requirements

Finding aids

Allied materials area

Existence and location of originals

Existence and location of copies

Related units of description

Related descriptions

Notes area

Note

EDITORIAL CHANGES

"Mhlamba Ndlophu" changed to "Mhlambandlovu"

Note

TRANSCRIPT

Dominee Cronjé
Dames en Here

Verteenwoordigers van die verskillende organisasies:

Laat my allereers toe om u almal hartlik te verwelkom vanoggend hier by Mhlambandlovu. Sommige van u is nou al ou kennisse hier, terwyl ander van u my vir die eerste keer met ‘n besoek vereer.

Hartlik welkom aan u almal, en dankie vir die geleentheid om hierdie belangrike gesprek te kan voortsit. U sal weet dat ek oor die afgelope twee jaar telkens met groepe Afrikaners ontmoet het om oor hierdie en aanverwante sake te praat. Dit is vir my van uiterste belang dat ons almal met mekaar in ernstige gesprek tree oor ons gesamentlike toekoms in hierdie land.

Die vorige keer toe ek gepraat het oor die testament van versoening en nasionale eenheid wat ek wil agterlaat, wou die geldmarkte ineenstort. Ek hoop nie dit gebeur weer nie, maar ek wil dit vandag hier herhaal: ek sien dit as een van my belangrikste take om te werk vir nasionale versoening, en om ‘n land agter te laat waarin daar blywende vrede is omdat al die mense en groepe van die land in onderlinge aanvaarding, respek en nasionale eensgesindheid met mekaar saamleef.

Ek is bewus van die kommer wat daar onder Afrikaners bestaan oor die Afrikaanse onderwys en Afrikaanse skole, en dat u vanoggend met my daaroor wil praat. Laat my net ter inleiding ‘n paar dinge sê.

Ek wil vandag vir elkeen van u ‘n geskenk gee. Ek gee vir u elkeen ‘n afskrif van die FREEDOM CHARTER, die VRYHEIDSMANIFES soos dit in Afrikaans genoem word. Daardie dokument wat in 1955 by ‘n volkskongres - “the Congress of the People” - opgestel en aanvaar is, is die basiese beleidsdokument van die ANC. Dit is vandag nog die basiese rigtinggewer vir die organisasie. Wanneer ek dus praat van versoening en van respek vir al die tale en kulture van die land, is dit nie, soos dikwels beweer word, ‘n blote indiwiduele standpunt nie. Dit is ‘n standpunt wat vervat is in die basiese beleid van die ANC, die meerderheidsparty in die Regering van Nasionale Eenheid. Ek noem dit vir u sodat u kan weet dat respek vir die verskeidenheid van ons samelewing diep wortels het in die politieke organisasie wat vandag aan bewind is in die land.

Soos ons vanoggend as Suid-Afrikaners hier bymekaar is, het ons sekere gemeenskaplike doelstellings, sowel as beperkinge waaraan ons gesamentlik as ‘n land onderworpe is:


  • Ons is verbonde tot die behoud en die groei van al die tale van Suid-Afrika, natuurlik insluitende Afrikaans.



  • Ons is verbonde tot die bevordering van meertaligheid onder Suid-Afrikaners, en tot nie-rassigheid.



  • Ons werk onder bepaalde beperkinge: daar is beperkte middele tot ons beskikking, en die bevolking waaraan opvoeding verskaf moet word, is dwarsoor die land versprei.


Wat nou nodig is van die kant van almal wat die beswil van die land op die hart het, is dat hulle mekaar se integriteit aanvaar. Hulle behoort bymekaar te kom om in die brëer nasionale belang, en met inagneming van die beperkinge wat bestaan, te soek na oplossings wat beide prakties-uitvoerbaar en gebaseer op beginsel-oorwegings is. Dit help glad nie om almal wat hul kommer oor die toekoms van Afrikaans uitspreek, as rassiste uit te skel en af te maak nie; net so min soos dit help om die ANC of die Regering voor te stel asof hulle daarop uit is om Afrikaans te vernietig nie.

Ons het as Suid-Afrikaners reeds so ‘n klinkende voorbeeld aan die wêreld gestel oor hoe ons deur onderhandeling en kompromis ons probleme kon oorkom en oplos. Ons is dit aan onsself verskuldig om in daardie selfde gees nou weer oplossing-gerig te wees. Ons nageslagte sal ons daaraan skuldig hou, indien ons so eng en groepsgebonde in ons denke was dat ons nie in staat kon wees om skeppende oplossings te vind nie.

Die bevrydingstryd wat ons oor agt dekades in hierdie land gevoer het, was onderlê deur baie diep denke oor en soeke na antwoorde op vrae oor die aard van ons samelewingsorde. Die sogenaamde “national question” is ‘n kwessie wat altyd die denke van die bevrydingsbeweging besig gehou het. Hoe word die belange van verskillende nasionale groepe ge-akkommodeer binne die nie-rassige nasionale eenheid? En dit is belangrik, voordat ons vanoggend hierdie gesprek oor Afrikaner-belange begin, om in gedagte te hou dat die “national question” nie net vir Afrikaners geld nie. As u vra na die plek van u taalgroep of kultuur in die gemeenskaplike land, moet u dit doen deur terselfdertyd die belange van ander ook in gedagte te hou.

Ek het dit reeds duidelik gemaak dat kommer oor die toekoms van Afrikaans nie gelyk gestel kan word aan rassisme nie. Terselfdertyd sal u my seker ook gelyk gee dat daar ongetwyfeld ‘n minderheid is wat wel die kwessie uitbuit vir rassistiese doeleindes. Daar is dié minderheid wat onder die dekmantel van besorgdheid oor Afrikaans bestaande voordele probeer beskerm deur verandering in belang van die hele nasie teen te staan en te keer.

Diegene wat werklik en opreg besorgd is oor Afrikaans, behoort hulle uit te spreek teen so ‘n benadering en die voorstaanders daarvan. Op die wyse sal u ook help om te voorkom dat die meerderheid van u landgenote altyd ‘n verskuilde agenda vermoed wanneer Afrikaans as kwessie ge-opper word.

Maar laat ons hierdie gesprek in ‘n positiewe gees voer! Ons is hier om na mekaar te luister en om te soek na oplossings vir probleme wat daar mag bestaan.

Alternative identifier(s)

Access points

Subject access points

Name access points

Genre access points

Description control area

Description identifier

Institution identifier

Rules and/or conventions used

Status

Level of detail

Dates of creation revision deletion

Acquisition method: From hard drive ; Source: Nelson Mandela Foundation Prof J Gerwel. Accessioned on 25/04/08 by Razia Saleh

Language(s)

Script(s)

Sources

Accession area

Related subjects

Related people and organizations

Related genres